Wednesday 12 September 2012

Terre'Blanche-moordenaar sit lewenslank



2012-08-22 – Die man wat vroeër van die moord op Eugene Terre’Blanche skuldig bevind is, is in die rondgaande hof op Ventersdorp tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Chris Mahlangu het tereg gestaan op aanklagte van moord, huisbraak en roof met verswarende omstandighede.

Regter John Horn het die regse leier se voormalige plaaswerker ‘n lewenslange vonnis vir moord opgelê.


Horn het Mahlangu in Mei op al dié aanklagte skuldig bevind.

Patrick Ndlovu, die tiener wat aanvanklik ook van die moord op Terre’Blanche aangekla is, maar later op dié aanklag en aanklag van roof vrygespreek is, kry twee jaar in geheel opgeskort vir vyf jaar vir huisbraak.

Joernaliste wat vanuit die hof getweet het, berig die regter het gesê Ndlovu het berou getoon en tekens van rehabilitering gewys.

“Jy’s al twee jaar in aanhouding. Ek dink nie jy moet tronk toe gaan nie,” het Horn aan Ndlovu gesê.

Mahlangu en Ndlovu is daarvan aangekla dat hulle die voormalige leier van die AWB op 3 April 2010 in sy plaashuis buite Ventersdorp in die Noordwes doodgeslaan het.

Mahlangu het beweer hy het uit selfverdediging opgetree, terwyl Ndlovu enige betrokkenheid in die misdaad ontken het.

Die tiener se naam is destyds met die regter se uitspraak vir die eerste keer genoem, aangesien hy toe eers 18 jaar oud geword het. Sy naam is in die verlede nie bekendgemaak nie, aangesien hy as ‘n minderjarige verhoor is.


Horn het tydens sy uitspraak Mahlangu se bewerings verwerp dat Terre’Blanche die plaaswerker gesodomiseer het.

Die regter het ook bewerings verwerp dat die polisie die semenagtige vloeistof op die regse leier se lyk doelbewus verwyder het.

Dit het tydens vorige hofverrigtinge aan die lig gekom dat daar geen forensiese bewyse was wat die tiener by die moord betrek nie.

Horn het destyds gesê daar was goeie getuienis dat Ndlovu by die huis ingebreek het en waarskynlik wou steel.



No comments: