Pitkos vir die Siel



Pitkos uittreksels uit
Vers 'n Dag

... woorde wat geestelik opbou, bemoedig en vertroos (1 Kor 14:3)

Om in te teken by Vers-n-dag, kliek hier.




Die Facebook faktor
Xanthe Galanis 

Agter die woorde van 'n huigelaar sit daar haat; wie skinderstories versprei, is 'n dwaas. Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig. Spreuke 10:18-19 

Hoeveel vriende het jy? As die eerste getal wat by jou opkom jou aantal Facebook vriende is, is jy heel moontlik iemand wat, soos ek, vriendskappe aanlyn sluit en onderhou. Vandag kan jy nie meer oor vriendskap gesels sonder om na die sosiale media te verwys nie. Hoe hanteer ons as Christene ons aanlyn vriendskappe? 

Natuurlik vertel die Bybel nie vir ons presies wat geskik is aldan nie om op jou Facebookbladsy te skryf nie, maar daar is sekere beginsels vir vriendskap wat ook aanlyn van toepassing is. Op stuk van sake het Paulus, Petrus en Johannes dikwels briewe geskryf aan Christene wat hulle nog nooit ontmoet het nie. Hierdie briewe is hardop voorgelees en van kerk na kerk gestuur. Klink dit bekend? Vandag noem ons dit "viral marketing". 

Christene se primêre roeping is om liefde te bewys, om te groei in die liefde van Jesus Christus en om sy genade en waarheid in die wêreld te weerspieël. Wanneer ons van aangesig tot aangesig met iemand gesels, probeer ons dikwels wys dat ons omgee. Soms is dit nodig om nie die eerste ding wat in jou kop kom te sê nie, maar 'n wag voor jou mond te plaas, veral wanneer dit 'n gemene of katterige aanmerking is. Hoeveel te meer moet ons nie in die aanlyn omgewing versigtig wees nie.  Ek is die eerste een om te erken dat ek al dikwels in die openbaar die verkeerde ding gesê het, en aanlyn kan dinge soveel erger wees. Iets wat ek vandag op my Facebookbladsy skryf, lyk soms die volgende dag heeltemal onvanpas en dan het 'n hele klomp mense dit reeds gesien. Wat ek aanlyn kan sê, wat ek vir 'n vriend persoonlik kan sê en wat ek eerder vir myself moet hou, is vir my steeds 'n leer- en groeiproses. 

Facebook kan 'n wonderlike manier wees om vriendskappe te versterk en te onderhou, solank as ons onthou dat daar krag in woorde is; nie net in die gesproke woord nie, maar ook in daardie haastige opmerkings wat jy so vinnig op Facebook plaas. 

Gebed:  Here ek dank U ook vir my aanlyn vriende. Help my om aanlyn net so versigtig te wees met wat ek sê as wat ek is wanneer ek van aangesig tot aangesig met vriende gesels en help my om ook op die Internet u waarheid te weerspieël. Amen
Josua en Kaleb – vriende in woord en daad
Xanthe Galanis
Ook het Josua seun van Nun, en Kaleb seun van Jefunne, manne wat saam die land verken het, hulle klere geskeur, en vir die hele vergadering Israeliete gesê: “Die land wat ons gaan verken het, is 'n buitengewoon goeie land. As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land wat oorloop van melk en heuning.  Numeri 14:6-8 
Miskien onthou jy die verhaal van die 12 spioene wat gestuur is om die Beloofde Land te gaan verken en aan die Israeliete verslag te kom doen. Hulle het saamgestem oor die inhoud van die verslag; dit was waarlik 'n land wat oorloop van melk en heuning. Maar hulle het verskil oor hoe Israel op hierdie nuus moes reageer. 
Tien van hulle het dieselfde mening gehuldig. Hulle het gesê Israel kan nie die land binnetrek nie – die vyand was te groot. Twee getroue, dapper manne het egter van die ander verskil. Kaleb het namens hulle gepraat en gesê:  “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.”(Numeri 13:30)  Dit moes baie moed geverg het om voor die hele volk te sê wat hulle gesê het. Hierdie twee manne is deur hulle oortuiging aan mekaar gebind. 
Wanneer jy en iemand anders die enigste twee in 'n groep is wat reg doen, die enigste twee in jou skool of klas is wat openlik vir Jesus Christus getuig, die enigste individue in jou gesin of buurt is wat Christus bely, kan dit julle soos 'n Kaleb en Josua saamsnoer. 
Josua en Kaleb was vriende deur dik en dun. Hulle vriendskap is getoets, maar tog het hulle in woord en daad saamgestaan. Miskien is jy geseën met so 'n vriend, iemand wat in woord en daad by jou sal staan. Indien wel, sê vandag nog vir daardie persoon hoe baie jy hom of haar waardeer en vind 'n manier om dit ook vir jou vriend te wys. 
Gebed: Hemelse Vader ek dank U vir vriende wat my oortuigings deel. U woord leer my om nie net te sê dat ek iemand liefhet nie, maar om dit ook deur my dade te bewys. Help my om vandag ook deur my dade my vriendskap te bewys. Amen



Jesus en Saggeus – onwaarskynlike vriende
Xanthe Galanis

Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: "Saggeus kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan." Lukas 19:5

Saggeus was 'n ryk en invloedryke man.  Almal het geweet wie hy was, maar hy het waarskynlik nie baie vriende gehad nie. Hy was die hoofbelastinggaarder, wat beteken het dat hy 'n sekere hoeveeldheid vir die Romeinse ryk aan belastings moes kollekteer en alles wat hy meer van die mense kon afdwing was syne. Hy het mense bankrot gemaak, hy het lenings opgeroep en hy het mense se besittings afgeneem. Geen wonder niemand het juis van hom gehou nie.


Met dit in gedagte, stel jou voor die skare se reaksie toe Jesus in die openbaar Homself uitnooi om in Saggeus se huis tuis te gaan. In Saggeus se tyd het 'n ete saam met mense dieselfde beteken as vandag – dit is as 'n daad van vriendskap beskou.
 

Dit is onwaarskynlik dat Saggeus veel in gemeen gehad het met die mense wat dié dag wat hy Jesus ontmoet het na sy huis toe gekom het. Hulle het verskillende beroepe gehad, uit verskillende sosiale kringe en agtergronde gekom, maar hulle liefde vir Jesus en hulle verlange om by Hom te wees en van Hom te leer, het hulle bymekaar gebring. Dit is wat Jesus vir sondaars doen. Hy roep ons by die naam, en Hy nooi ons uit om vriende met Hom te word. Hy gee nie om of dit sosiaal aanvaarbaar is nie en Hy doen dit nie om Homself beter te laat lyk nie. En dit moet ook ons houding wees.
 

Dit laat my wonder of daar iemand is wat die Here vir my as vriend wil gee maar wat ek miskyk. Die vrou by die werk wat ek gewoonlik ignoreer? Die man wat met 'n aksent praat of miskien glad nie my taal praat nie? Die armes, die eensames, diegene wat van my verskil? Kom ons klim 'n bietjie uit ons gemaksone uit en sien 'n wêreld raak wat so 'n groot behoefte het aan 'n vriend soos Jesus – ek en jy kan Hom aan hulle voorstel.
 

Gebed: Liewe Heer, help my om mense te sien soos U hulle sien. Help my om verder as my huidige vriendekring te kyk en diegene wat U oor my pad stuur, raak te sien. Amen.


Lesse van Job - Elifas
Xanthe Galanis

“As ek jý was, sou ek my tot God wend en my saak aan Hom voorlê." Job 5:8 
“Dit gaan goed met die mens wat deur God tereggewys word. Jy moet nie die bestraffing van die Almagtige verontagsaam nie." Job 5:17
Verlies bring jou nader aan sommige mense, maar soms bou dit mure tussen mense. In die boek Job ontmoet ons 'n man wat eers 'n ryk en gerespekteerde man in die samelewing was, maar nou het hy alles verloor – sy rykdom, sy eiendom, sy vrou, sy kinders en sy gesondheid. Drie van sy vriende, Elifas, Bildad en Sofar, kom besoek hom, en hulle probeer vasstel hoekom hierdie ramp Job getref het.

 Die volgende drie dae gaan ons hierdie drie manne 'n bietjie van nader bekyk en veral hoe hulle op Job in sy tyd van nood gereageer het. Ons begin met Elifas.

 Dink 'n bietjie. Elifas het hom in moeilike omstandighede bevind. Hy was die eerste een om met 'n vriend te praat wie se wêreld inmekaar getuimel het en wat fisies en geestelik swaar gekry het. Wat sê 'n mens? Sê jy jy is jammer? Dit mag dalk baie alledaags klink. Moet 'n mens sommer met die deur in die huis val? Dit mag dalk baie onsensitief wees. Elifas doen sy beste; hy praat op 'n vriendelike manier met Job.

 Hy gaan voort om aan Job te verduidelik dat hy, Elifas, al gesien en ervaar het dat mense wat sondig, swaar kry. Aangesien Job ly, moet dit as gevolg van sy sonde wees en word hy nou gedissiplineer. Elifas was van mening dat Job hom tot God moet wend en Hom nie moet verontagsaam nie en dan sou hy weer vooruitstrewend word.  Alhoewel hy geen idee gehad het hoekom Job so swaar kry nie of wat God se bedoeling daarmee was nie, was Elifas oortuig dat hy die oplossing vir sy vriend se probleme gehad het. (Het jy dit nie ook al beleef nie?)

 Baie van wat Elifas gesê het, was wel waar. God straf die sondaar, maar wat met Job aan die gebeur was, was dieper, iets heeltemal bo die begrip van Elifas.

 Hoe reageer jy wanneer 'n vriend verlies in sy lewe ervaar? Gaan jy van die veronderstelling uit dat op grond van jou eie ervarings jy al die antwoorde het?

 Gebed: Vader, dit is so moeilik om te weet wat om te sê vir 'n vriend wat seerkry .Skenk my die wysheid om hom of haar te bemoedig en nie sommer net veronderstellings te maak wat ons uit mekaar kan dryf nie. Amen.


Lesse van Job - Sofar
Xanthe Galanis 

Jy sê vir God: ‘Wat ek dink, is reg, ek is onskuldig voor U.’ As God maar wou begin praat en jou wou weerspreek,  Job 11:4-5 

God ken skynheilige mense, Hy sien die sonde raak, sonder nader ondersoek.
Job 11:11

 Waar Elifas Job versigtig en met geduld benader het en Bildad ietwat ontstig was, was Sofar, die derde vriend om met Job te praat, woedend en selfs wreed.

 Waar Elifas Job nie onder die goddeloses tel nie, en Bildad onseker is van Job se geestelike oortuigings, is Sofar heeltemal oortuig dat Job geestelik geheel en al verkeerd is. Waar Job se argumente Bildad aanstoot gegee het, kry 'n mens die gevoel dat dit Job self is wat Sofar aanstoot gee. Dit is die beste verduideliking vir die onverwagte harde woorde wat Sofar sy vriend toevoeg. Sover dit Sofar aangaan laat God Job lig daarvan afkom. Dit is net genade dat iets erger nie gebeur het nie.

 Elifas was vriendelik, maar verkeerd want hy het net op sy eie ervaring staat gemaak. Bildad weer was baie vinnig om vir Job te sê dat hy verkeerd was oor God se karakter en Sofar het reguit vir Job gesê dat hy sondig en 'n idioot is. Job se vriende was van mening dat hulle weet hoekom die rampe Job tref. Hulle het geweier om te glo dat Job onskuldig was en het hardkoppig aangegaan om vir hom slegte raad te gee. Toe hy nie na hulle wou luister nie, het hulle vertrek. 

Hoeveel keer het jy al 'n vriend kwaai aangespreek omdat jy van mening was dat hy iets oor homself gebring het? Hoe kan ons dit vermy? 

Dit is die kere wat ons nie net moet kyk wat die Bybel sê nie, maar ons moet God se waarhede in liefde en met begrip oordra sodat dit vir die ander persoon opbouend en tot stigting sal wees (Filippense 1:9-11; 1 Timoteus 1:5).  Job se vriende was van mening dat hy die een was wat tereggewys moes word, maar eintlik was dit hulle wat hulle benadering moes verander. 

Gebed: Here, gee my die wysheid om u waarhede met liefde en begrip aan 'n vriend wat swaar kry oor te dra. Ek dank U vir godvresende vriende wat my in moeilike tye ondersteun. Amen.

No comments: