Friday, 25 May 2012

Hulde aan vroue en kinders wat gesterf het in konsentrasiekampe

ONS VROUE EN KINDERS STERF IN KONSENTRASIEKAMPE TYDENS DIE ANGLO-BOEREOORLOG

Die Tweede Vryheidsoorlog of Anglo-Boereoorlog (Engels: Second Boer War, Nederlands: Tweede Boerenoorlog) was 'n oorlog tussen die Boererepublieke Oranje-Vrystaat en Zuid-Afrikaansche Republiek op die een kant en die Britse Ryk op die ander kant wat tussen 11 Oktober 1899 en 31 Mei 1902 in Suid-Afrika en Swaziland gewoed het. 

Die Britte kon eindelik net die Boere tot oorgawe dwing deur ‘n taktiek van totale aanslag (teen vroue, kinders en bejaardes) te volg. Plase en huise is afgebrand om te verhoed dat Boere op kommando van voedsel en ander voorrade voorsien kan word. Hierdeur is duisende vroue en kinders haweloos gelaat en in Britse konsentrasiekampe ‘gehuisves’. Die eerste kamp is in Julie 1900 naby Mafikeng opgerig. Kitchener se meer intensiewe dryfjagte het die aantal haweloses laat toeneem en teen September 1901 was daar 110 000 blanke vrouens en kinders in 34 konsentrasiekampe.  
Kampe, wat hoofsaaklik tente in die oop veld was, was dikwels baie swak geleë. Onhigiëniese toestande, swak en onvoldoende voedsel asook te min mediese personeel het rampspoedige gevolge gehad. Tussen Augustus en Oktober 1901 is 8 623 sterftes in die kampe aangeteken. As gevolg van die optrede van Emily Hobhouse en die daaropvolgende ondersoek na die toestande, het omstandighede teen Desember 1901 verbeter en die sterftesyfer het afgeneem. In totaal het 26 251 blanke vroue en kinders, 22 000 van hulle onder 12 jaar, gesterf.

In die Anglo-Boereoorlog, wat iets meer as honderd jaar gelede ten einde geloop het, het die lot van onskuldige kinders vir een van die somberste hoofstukke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gesorg.
Dit was veral in die konsentrasiekampe, waar duisende kinders die hoogste tol moes betaal.  Volgens baie geskiedkundiges was die berugte konsentrasiekampe destyds die Britte se manier om ’n einde aan die voortslepende oorlog teen die Boere-guerrillas te probeer maak, al sou hulle ook ander redes aanvoer waarom dit nodig sou wees om die kampe op te rig.
Die plan sou wees om die Boere se moreel te breek deur hul vroue en kinders, bejaardes en ander afhanklikes soos plaaswerkers na kampe in die veld weg te voer—waar hulle in die haglikste omstandighede gewoon het.
Van die 118 000 Boeremense wat in die konsentrasiekampe was, is byna 28.000 oorlede. Trouens, ’n hele geslag potensiële Afrikaners is uitgewis, altesaam 22.074 Boerekinders en 4182 Boerevroue, terwyl nog sowat anderhalf duisend mans (meestal bejaardes) in die kampe omgekom het.
Daar is al bereken dat daar vandag nagenoeg 600.000 meer Afrikaners kon gewees het as dit nie vir die sterftes in die konsentrasiekampe was nie.
Die kampbewoners, veral die kindertjies, het binne maande tot lewende geraamtes weggeteer. Die swak sanitêre geriewe in die nagenoeg vyftig kampe het tot die uitbreek van epidemies gelei, waarvan ’n masels-epidemie die dodelikste was.
MAAR dit was nie net in die konsentrasiekampe waar destyds van kinders verwag is om aktief by die oorlog betrokke te wees nie.
Daar was ook die sogenaamde penkoppe. Kragtens die kommandowette van die Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) en die Oranje-Vrijstaat was manlike burgers dienspligtig vandat hulle sestien jaar oud geword het.
Dog reeds in die eerste maande van die oorlog was daar penkoppe jonger as sestien jaar in die kommando’s. Tog was dit veral in die laaste fase van die oorlog, die guerrilla-fase, toe die Boere meestal in hul eie distrikte geveg het, dat bloedjong seuns hulle te velde by hul vegtende pa’s en ouer broers aangesluit het.
Die woord penkop vir hierdie melktand-tieners op kommando is heel waarskynlik ontleen aan dieselfde naam vir ’n bulkalf wat pas horings gekry het.
Teks van www.mieliestronk.com besoek op 27 November 2010

Die kampe wat in die loop van die oorlog opgerig is, sluit in:
Transvaal: Balmoral, Barberton, Belfast, Heidelberg, Johannesburg, Irene, Klerksdorp, Krugersdorp, Mafeking, Meintjeskop, Middelburg, Nylstroom, Pietersburg, Potchefstroom, Standerton, Van der Hoven's Drift, Vereeniging en Volksrust.
Oranjerivier-kolonie(Oranje-Vrystaat): Aliwal-Noord, Bethulie, Bloemfontein, Brandfort, Harrismith, Heilbron, Kimberley, Kromellenboog, Kroonstad, Ladybrand, Norvalspont, Oranjerivier, Springfontein, Vredefortpad (nou Dover) en Winburg.
Natal: Colenso, De Jagers Drift, Eshowe, Howick, Isipingo, Jacobs, Ladysmith, Merebank (naby Durban), Mooirivier, Norvalspont Konsentrasiekamp    Pietermaritzburg, Pinetown en Wentworth (Durban).  

Kaapkolonie: Oos-London, Kubusi, Port Elizabeth, Uitenhage en Vryburg. 
  
  
    Oorgangskamp vir Boere Krygsgevangenes naby Kaapstad
Weens die snel toenemende kampbevolking, karige tenthuisvesting, gebrekkige voeding, swak sanitasiegeriewe, wanadministrasie en onvoldoende mediese dienste (terwyl epidemiese siektes soos masels geheers het), het daar binne 20 maande 26 251 vroue en kinders en 1 421 manlikes bo 16 jaar uit 'n totaal van ongeveer 130 000 kampbewoners gesterf.
Rye tente in die konsentrasiekamp op Brandfort. Van die voorsiening van voldoende 
huisvesting was daar in die konsentrasiekampe van die Tweede Anglo-Boere-oorlog geen sprake nie. Sonder voldoende komberse en klere, en soms selfs sonder beddens of matrasse, is die geïnterneerdes blootgestel aan uiterste weerstoestande wat tot baie siektes onder veral klein kinders gelei het. Ensiklopedie van die Wêreld

Van die voorsiening van voldoende huisvesting was daar geen sprake nie. Baie kampbewoners moes eers net so in die veld woon totdat karige tente aan hulle verskaf is, of is in klein hutjies opgehok. Diegene wat nie van tente voorsien kon word nie, is volgens die verslag van die Britse kommissie van ondersoek in elke denkbare soort gebou - van kerke se konsistories tot hotelle en store (en tot in 'n hoefsmid se werkswinkel - gehuisves. Sonder voldoende komberse en klere, en soms selfs sonder beddens of matrasse, is die geïnterneerdes blootgestel aan uiterste weerstoestande (veral op die Transvaalse Hoëveld en in die Vrystaat) wat tot baie siektes onder veral klein kinders gelei het.
Die kosvoorsiening aan die kampe, wat dikwels op swak geleë plekke opgerig is en van die begin af oorvol was, was beroerd. Nie net was daar te min kos nie, maar die gehalte - veral van die vleis, suiker en meel - was aanvanklik baie swak, terwyl groente, vrugte en ander noodsaaklike kossoorte glad nie verskaf is nie. Die gevolg was dat die inwoners - veral die kinders - weggekwyn het en binne 'n paar maande in lewende geraamtes verander het. 'n Britse kampdokter het hom genoop gevoel om verslag te doen dat dit die swak dieet was wat daartoe
gelei het dat veral die kinders uitgeteer geraak het en bitter min weerstand teen siektes gehad het.                      

Ook die sanitasie was totaal onvoldoende. Ontoereikende voorsiening is gemaak vir die weggooi van vuilgoed, terwyl die toilette so primitief was dat hulle broeiplekke vir siektekieme en areas van besmetting geword het. Te min dokters en medisyne het die toestand vererger. Toe siektes, veral masels, in die kampe uitbreek, het die dodetal gevaarlik gestyg. Die sterftesyfer het sy hoogtepunt in Oktober 1901 bereik, toe 326 uit elke 1 000 kampinwoners per jaar in Transvaalse kampe gesterf het en 401 uit elke 1 000 in die Vrystaatse kampe.
 
Die verslae van kampsuperintendente, sowel as dié van Emily Hobhouse, wat in Vrystaatse kampe noodlenigings- en opheffingswerk verrig het, het getoon dat hierdie situasie te wyte was aan niks anders nie as die swak toestande wat in die kampe geheers het. Toe dié verslae openbaar gemaak is, was daar skerp kritiek wêreldwyd, insluitende vanuit Engeland self. Dít het die Britse regering genoop om 'n omvattende ondersoek deur 'n vrouekomitee te beveel.

Die komitee se voorstelle het daartoe gelei dat die administrasie van die kampe opgeknap is en ingrypende veranderinge in die lewenstoestande in kampe ingetree het. Verbeterde behuising, sanitasie, kos, mediese aandag en beskerming teen die koue het daartoe gelei dat die sterftesyfer in 1902 skerp afgeneem het en teen Mei dié jaar weer normale vlakke bereik het. Die Britse owerheid het egter steeds voortgegaan met hul beleid van verengelsing en die saai van verdeeldheid onder die kampinwoners.

EMILY HOBHOUSE        

 









BLANKE KONSENTRASIEKAMPKERKHOWE VANDAG
ALIWAL-NOORD :
Naby Hoërskool in Somersetstraat
BALMORAL : Op plaas Eensaamheid langs Witbank snelweg
BARBERTON : Munisipale begraafplaas, Gospelstraat
BELFAST : Scheeperstraat, Belfast
BETHULIE : Nuwe terrein, op dorpsgronde, Bethulie 303
BLOEMFONTEIN : Pres. Brand begraafplaas, Presidentstraat
Memorium begraafplaas, Genl. Brandstraat
BRANDFORT : Op plaas Louvain 286
DURBAN : 1. Jacobs, h/v Dudley en Thornstrate, 2. Merebank, h/v Himalaya en Rawalpindistrate
HARRISMITH : Munisipale begraafplaas
HEIDELBERG : Nuwe Munisipale begraafplaas, Jacobsstraat
HEILBRON : Munisipale begraafplaas, Hallstraat
HOWICK : Terrein van Umgeni-Instituut
IRENE : Brudeweg 11, Irene
ISIPINGO : Naby die stasie
JOHANNESBURG : Turffontein, Mondeor dorpsgebied, Malutistraat
KABUSIE : By Stutterheim
KIMBERLEY : Tuin van Herinnering, Hertzogplein, Longstraat
KLERKSDORP : Ou Munisipale begraafplaas op Spoorwegterrein
KROONSTAD : In die nywerheidsgebied, Tenthstraat
KRUGERSDORP : Munisipale begraafplaas, Luipaardstraat
MAFIKENG : 4 km van die dorp op die Vryburgpad,
Sterfteregister
MIDDELBURG : 1. Ou munisipale begraafplaas, Voortrekkerstraat; 2. Nuwe munisipale begraafplaas, Oranjestraat 3. Kareelaan, Kanonkop
NORVALSPONT : Ongeveer 5 km onder die damwal van die H.F.Verwoerddam (Gariepdam)
NYLSTROOM : Ou munisipale begraafplaas
ORANJERIVIER-STASIE : Op die plaas Doornbult, distrik Hopetown
PIETERSBURG : Agaatstraat, Nywerheidsgebied, Pietersburg
PIETERMARITZBURG : Commercialstraat begraafplaas
PORT ELIZABETH : Tuin van Herinnering, Noord Einde begraafplaas
POTCHEFSTROOM : 1.In Bailie Park, 2. Olën Park by die Rugby stadion
SPRINGFONTEIN : 1. Ongeveer 4 km buite die dorp, suid-oos van die stasie, 2. Kinderkonsentrasiekampkerkhof, langs dorp se lykshuis
STANDERTON : Ou munisipale begraafplaas, Bergstraat
UITENHAGE : Privaatgrond, ongeveer 7 km op pad na Graaff-Reinet
VEREENIGING : Ou munisipale begraafplaas, Beaconfieldlaan
VREDEFORTWEG : Naby die Greenlands-spoorwegstasie
VOLKSRUST : H/v Joubert en Laingsnekstrate, by Burgersentrum
VRYBURG : Nuwe woonbuurt, noord van die dorp
WINBURG : 1. In die ou kerkhof in die dorp, Jack Coetzerstraat, 2.Vaalkop, 2 km wes van die dorp
Ons eer vandag die Boere Vrouens, Boere Volksmoeders en Boere Kinders wat onder haaglike omstandighede 'n oorlewingstryd moes voer gedurende die Anglo-Boereoorlog.  Julle sal altyd in ons gedagtes bly en jul voorbeeld van oorlewing en trots al was jul op die laagste punt van jul lewe kan vir ons as motivering dien van hoe ons vandag ons aanslae teen die Boervolk moet hanteer en moet verwerk.

No comments: